Amelia Earhart

Amelia Earhart in om en by 1928

Amelia Earhart (Atchison, Kansas, 24 Julie 1897 – Stille Oseaan, 2 Julie 1937) was 'n Amerikaanse vlieënier en lugvaartpionier.

Sy het in 1928 bekendheid verwerf toe sy die eerste vrou geword het wat oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het. In Mei 1932 het sy haar eerste solovlug oor die Atlantiese Oseaan onderneem. Met hierdie vlug het sy 'n nuwe transatlantiese rekord van 13 ure en 30 minute opgestel. Vir hierdie besonderse prestasie het sy 'n medalje van die Amerikaanse president van dié tyd, Herbert Hoover, ontvang.

Earhart het as 'n offisier op die Luddington-lyn, die eerste passasiersdiens wat tussen New York en Washington DC gevlieg het, gevlieg. In Januarie 1935 het sy 'n solovlug van Hawaii tot in Kalifornië gedoen.

In Junie 1937 het sy haar begin voorberei vir haar "om die wêreldvlug" saam met Fred Noonam. Met die voltooiing van hierdie vlug sou sy die eerste vrou wees wat hierdie ontsaglike afstand met 'n vliegtuig afgelê het.

Amelia Earhart

Op 1 Julie 1937 het hierdie geskiedkundige vlug in Miami begin. Vandaar het hulle na Suid-Amerika gevlieg. Hier het hulle oor die Suid-Atlantiese Oseaan na Dakar in Afrika gevlieg. Nadat hulle oor die Sahara-woestyn is, het hulle na Singapoer gevlieg en vandaar na Australië. Nadat hulle egter van Lae in Nieu-Guinee opgestyg het, het die Amerikaanse Kuswag kontak met die vliegtuig verloor. Die laaste boodskap wat hulle van Earhart ontvang het, was op 2 Julie om 8:45 vm. Daarna het hulle heeltemal kontak verloor en tot vandag toe weet niemand wat gebeur het nie.

Die Amerikaanse Vloot het uitgebreide soektogte geloods, maar daar is nooit enige spoor van die vlieëniers of die vliegtuig gevind nie. Op 18 Julie 1937 het president Roosevelt al die soektogte afgelas en is daar aangeneem dat die vliegtuig in die see neergestort het.

Die geheimsinnige verdwyning van Amelia Earhart en haar medevlieënier het baie spekulasie tot gevolg gehad. Party mense beweer dat hulle deur die Japanners afgeskiet is en gevange geneem is; ander glo dat president Roosevelt hulle op 'n geheime spioenasiesending gestuur het. Nie een van hierdie teorieë kon egter ooit gestaaf word nie.


Developed by StudentB